Hierdie afdeling van die webwerf gaan gereeld ongepubliseerde kortverhale verskaf aan u die leser. Lees lekker saam en lewer kommentaar op die blog!
Ek en vriend Koos Koek roei met ‘n dorperram - Januarie 2010
Die meeste van my vriende is op pensioen en staan soggens op wanneer hy wil, vee in sy pantoffels en kamerjas die huis se stoep af en bring later vir Mammie ‘n koppie koffie in die kooi. Later sit hy ‘n voorskoot aan en was vir haar die vorige aand se skottelgoed, want hy het die vorige nag skelmpies ‘n stout fliek gekyk.
Ek het ongelukkig nog nie hierdie voorreg nie, want dis soggens vroeg opstaan, mandjie pak om veld toe te gaan om saans kort voor sononder weer by die huis te kom.
Ek en my ou vriend, Koos Koek (de Villiers), het nou-die-dag die skape gaan kosgee en toe kry ons ‘n ou ram wat onwettig deur die draad gekruip het. “Ons moet die ou vuiles hier uithaal”, seg ek vir hom. Hy kyk my vebaas aan en vra: “Maar hoe?” “Ons neuk hom oor die draad”, is my vinnige antwoord. Hy kyk rond vir hulp, maar daar is niemand in sig nie. Die dorperram staan en vreet rustig soos ‘n beervark en steur hom nie aan ons nie.
“Vang hom, ou Koos! Jy’s mos darem ‘n jaar jonger as ek”, skerm ek. Koos buk soos ‘n gesoute skeerder en storm die vette ram en gryp hom aan sy agterpoot. Die fris ram spring weg en ruk vir arme Koos onder hom in dat sy lange balsak vir Koos deur sy eet-en-drink slaan. Ek snel my arme vriend te hulp ( die spoed is egter nie daar nie) en gryp die ander agterpoot vas. Arme ou Koos se grys hare is vol skaapdrolle en sand gemeng. Eindelik staan die ram stil en Koos staan in drie paaiemente op – eers op die hande, toe op die knieë en eindelik op sy voete – sy bril skoon weg!
“Die ou dônner is te groot – ons sal hom nie oorkry nie”, protesteer Koos uitasem. “Man, ons lig sy voorlyf op en gooi eers sy voorbene oor die draad, dan ‘tip’ ons hom verder oor”, is my kamma wyse raad. Toe ons sy voorpote gryp, toe ‘reverse’ die ram en staan soos ‘n skouperd op sy agterbene en gluur ons met sy wit omgedopte oë aan. “Jirlikheid, en nou?” skree Koos, terwyl die ram se snoet sentimeters van sy eie mond af is. “Soen die ou ram!”, skreeu ek verspot, terwyl ons voetjie-vir-voetjie met hom draad toe stap. Die ou ram beur met alle geweld terug , want hy gewaar ons wil hom van sy plesiertjie speen.
Eindelik gooi ons sy voorlyf oor die draad – die hele draad plat. Sy een agterklou haak aan die ogiesdraad se oog en daar sit hy soos in ‘n slagyster vas. Ek is later voor hom om die ram terug te ‘skrum’ sodat sy poot nie moet seerkry nie, want dis my kosbare stoetram. “Koos, probeer haal gou sy klou uit, asseblief man – ek raak lam,” skree ek, terwyl ek beur met al die kraggies wat ek Desember teen die see versamel het toe ons daar leeggelê en vet skaapvleis geëet het. “Hy skop aanmekaar soos ‘n bleddie muil!,” is Koos se vinnige verskoning.
Later staan ek en die ram regop, maar nie een wil bes gee nie. Dit voel soos die dae toe ek soms noodgedwonge voorry moes druk. “Druk t’rug – sy poot bloei al!” skree Koos in die nood. Dis toe dat ek alles bymekaar maak en terselfdertyd moet ek keer dat my broeknaat nie kraak nie, want dan sal ek nooit die einde daarvan hoor nie.
Die ou ram kom toe agter sy opponent speel vuil, want ek slaan hom op sy kortrib terwyl ek harder druk. “Hy’s los!”, skree Koos. Die skrum val en ek en Koos staan op ons knieë, rooi in die gesig, vol sand en toe sê ons byna gelyk: “Siesa, dan’s ons verstront. Ons het vandag amper teen ‘n dorperram verloor!”
Moenie iemand op sy baadjie (of hare) takseer nie! - November 2009
Vir meer as 20 jaar al ontvang ek en Hestelle gaste tydens die blommeseisoen. Die meeste van hierdie gaste vergeet jy sommer as hulle die werf uitry, maar dan is daar enkeles wat so ‘n indruk op jou maak, dat jy hulle nog steeds onthou en wonder wat van hulle geword het. So ‘n geval was Peter van Pietermaritzburg in Natal.
Dit was laat agtermiddag toe hulle voor die deur stop. ‘n Lang, lenige man, met ‘n poniestert wat op sy rug hang, het uitgeklim. Met my vooropgestelde waarneming en veroordeling van ‘wie en wat klim vandag by ons af?’, het ek hom stadig tegemoetgeloop. Toe ek die lang, grys vasgebinde hare sien, sê ek vir myself: “Jy’s seker ‘n Ingelsman. As ek jou hare losmaak en jou aan jou voete vat, sal jy darem lekker die werf skoonsleep.” Hy het soos ‘n jintelman sy vrou se deur oopgemaak, asook hulle passasier s’n. Vrees dat hy rou Engels was, het my beetgepak, want ek het ‘n lang en ongemaklike aand sien kom, waar ek weer Ingelse woorde moet soek om die geselskap aan die gang te hou.
Groot was my ontnugtering toe hy my hand stewig vasvat en ek in die sagste, liefdevolste oë kyk wat ek nog ooit in ‘n man gesien het. Dis asof daar ‘n warmte uit hom straal toe hy sê: “Mnr. Engelbrecht, dis werklik ‘n voorreg om julle te ontmoet.” Nadat ons almal gegroet het, stap ek as verligte man huis toe, maar die Rooitaal se klanke ontglip nie my waaksame ore nie.
Na ete het ons godsdiens gehou en toe ek “amen” sê, toe trek Peter los en begin sing. Sy vrou en hulle vriendin begin in stemme saamsing dat ek hoendervleis kry. Dis of die tyd stilstaan en jy alles wil indrink wat rondom die tafel gebeur. Dit was so aandoenlik, dat toe hulle later ophou, ek en Hestelle hulle versoek het om aan te hou. Terwyl hulle sing, het hul gesigte dankbaar en blymoedig gestraal. Dit was die eerste keer dat Engels my nie gepla het nie, want dit was aangrypend.
Nadat ons tee gedrink het, het hulle openlik begin getuig. Peter het vertel van hulle boerdery in Natal en van sy pragtige mooi beeste waarmee hulle geboer het. Hy het ‘n Limousinstoet gehad – van die beste in Natal. Die boere het van heinde en verre gekom om bulle by hom te kom koop. Die beeste het op aangeplante weiding geloop en was altyd blinkvet. Hulle boerdery het gefloreer.
Rondom hulle was ‘n groot plantasie wat soos ‘n perdeskoen om hulle plaas gelê het. Een middag, terwyl hulle aan tafel sit, het hy die veraf gerammel van donderweer gehoor, maar hulle was daaraan gewoond. Skielik het die telefoon gelui. Dit was sy buurman. “Peter, die donderweer het die plantasie aan die brand geslaan en die wind is baie sterk. Wees op julle hoede – dit brand af in julle rigting.” Peter het op die stoep van hul grasdakwoning uitgestap en die donker rookwolke in die verte gesien. Hy het onmiddelik almal per radio laat weet. Op die stoep het hy en sy vrou die vlamme en die donker rookmassa staan en dophou, terwyl hulle hoor hoe hulle beeste bulk en voor die vlamme probeer uitvlug. Die vlammesee het al wyer uitgekring en hul beeste teen die grensdraad vasgekeer. ‘n Paar groot beeste het waansinnig deur die draad gebars en gevlug, maar die meeste is deur die rook oorval en het doodgebrand.
Hulle kon reeds die geweldige hitte voel en die vlamme was al ‘n paar honderd meter van hul imposante woning af. Peter en sy vrou het gebid dat die wind moet draai, maar daar was nog net ‘n paar minute oor. Hulle het elkeen inderhaas in ‘n voertuig gespring en gevlug sonder dat hulle enigiets uit die huis kon red.
Twee ure later het hulle teruggekeer, terwyl ‘n paar balke nog gesmeul en net die swart mure gestaan het. Die skok was so groot, dat hy en sy vrou mekaar net kon vashou, terwul die halfgebrande beeste aanhoudend in die verte bulk. Hulle het huilend tussen die swart mure deurgeloop met die hoop dat iewers iets kosbaars behpue gebly het.
Toe hulle gebroke na hulle voertuie terugstap, het hulle vir mekaar gesê: “Ons het binne ‘n paar uur alles wat ons besit en deur die jare bymekaargemaak het, verloor, maar die vlamme kon nie die liefde wat ons vir ons Hemelse Vader het, wegbrand nie.”
Ek het asof gehipnotiseerd na hierdie hartseer verhaal geluister en vir myself gevra: “Hoe sal ék optree as ek van alles gestroop word?” Dit het my diep laat nadink Ons is geneig om alles wat ons bymekaar gemaak het, ons eie te noem. Dit het my net weer laat besef dat alles maar net aan ons geleen is.
Dis 'n reenteken - Oktober 2009
Namakwaland en die Boesmanland kry maar min reën, maar as dit die slag kom reën, is dit ‘n dankbare ou wêreld. Sy mense is dan so gelukkig en opgewonde soos kinders voor ‘n skoolvakansie.
Een jaar, kort na die depressie, toe die reën bietjie lank wegbly, soek almal na ‘n reënteken. Toe ou Andries een oggend wakkerskrik, stamp hy opgewonde aan sy vrou. “Oumens, ik hit vannag sleg geslaap, want my ou knieë hit heelnag gepyn. Dis ‘n teken vir onweer.” Mietjie is nou helder wakker en antwoord: “Ja, ou man, ik hit die laaste paar dae opgelet hier’s so baie vlieë. Gister toe ik gaat hout haal, toe kry ik gladsemaal twee slange wat uit die laagte uit loop.”
Andries skud sy velskoene uit en terwyl hy aantrek, sê hy vir Mietjie: “Ouvrou, maak solank vir ons ‘n trekseltjie koffie – ik stap gou buitentoe.” Die dag het reeds gebreek toe hy buite op die werf na die stilte staat en luister. Hy soek na die dagster, maar sy oë val op die volmaan wat skuins namiddag hang en toe sien hy dit waarvoor hy so lank gewag het – ‘n kring om die maan. Daar kom ‘n roering in sy binneste. Hy knoop vinnig sy gulp toe en haas hom kombuis toe om vir Mietjie die goeie nuus te gaan vertel. Mietjie staan voor die vuurherd toe Andries lostrek: “Oumens, daar’s‘n kring om die maan en op die stoep kry ik boonop ‘n toktokkie en ‘n doodhouer-spinnekop.” Mietjie skink die twee enemmelbekers vol moerkoffie en hulle gaan sit by die kombuistafel. “Ou man, jy seg daar’s ‘n kring om die maan ....... dis ‘n goeie teken, want my vader het altyd geglo drie dae daarna kom die reën.” Andries doop sy hardebroodjie (beskuit) tydsaam in sy koffie. “Ik stap vemôre ‘n bietjie oor na ou Hennerik toe, want as dit so begin neuk, bly hy mos hoed-in-die-oë. Nou lat ik hoor sy ryperd aan die papies vrek is, is hy halfpad nek-onder-lyf, seg Ketrina vir my.”
Mietjie knoop haar kappie vas en gee vir Andries ‘n slopie. “Loop tog daar by Jan Pap-hulle langs en gee vir Betjie die medisyne ... dis vir haar suiptjint se loopmagie.” Andries vat sy kierie en groet vir Mietjie. Toe hy die slopie vat, brom hy: “Ik weet ok nie wanner hy wil stop nie, want sy werf lyk al soos ‘n graatjieheuwel. Hy wil ok nie ‘n steek werk nie.” “Toemaar, ou man, ons help maar waar ons kan ..... ons maak maar soos die Woord sê.” “Ja, maar die Woord sê ok: ‘Wie nie werk nie, mog ok nie eet nie.’”
Terwyl Andries deur die laagte stap, sien hy die rook by Betjie se bakoond en hy dink by homselwers: die dag toe Jan Pap en Betjie met hule donkiekarretjie en troppie vee hier verbygetrek het, het hy en Mietjie innig jammer vir hulle gevoel en vir hulle ‘n sitplekkie gegee. Darie dag toe hulle hul matjieshuisie langs die bloekomboom kom opslaan het, het hulle net twee natneuskjinnertjies gehad. Nou trek hulle al by ag en Betjie is alweer met-die-lyf. Ai, as die man net ‘n slaggie sy twee hanne wil uitsteek, maar dis net die uithaler Betjie wat die spul aanmekaar hou. Jan Pap het as kind die bynaam gekry omdat hy glo te lui was om sy kos te kou.
Andries steek verbaas vas en hy kan nie glo wat sy oë sien nie – Jan Pap is besig om hout te saag en stukkend te kap vir Betjie se oond en die sweet tap hom af. “Môre, Jan! Lyk my Betjie het jou ingespan vemôre?” “Ja, oom Anneries, sy’t my vanaand nie kooi geblo nie – toe moes ek maar inspring!” “Hoe lyk dit hier by julle?” “Nee, oom Anneries, hier’s al twee bokke van my vrek, maar hulle sê mos ‘waar is, moet af’.” “Dis ok waar, Jan. Gee die medisynetjies vir Betjie. Ik stap bietjie oor na ou neef Hennerik toe.”
Ou Hendrik sit koponderstebo toe Andries die onderdeur oopstoot. “Môre, buurman! Hoe gaan dit?” Hendrik lig sy kop effe, gee ‘n moedelose sug en antwoord skaars hoorbaar: “Nee, neef, dit gaat sleg. Jy weet mos van Darling ..... ik hit so gehoop ik sal hom deurhaal.” Hendrik se oë trek water en hy stotter deur die trane: “Hy’t my gedra ... elke dag ......hy was my vrind .....nou’s hy nie meer daar nie.... ik hit hom self gaat begrawe,” snik hy. “ ...en nou hierie droogte.”
“Neef Hennerik, dit sal kortendag kom reën, want vemôre toe ik na jou gestap kom hit, hit ik gesien hoe die vaal gruisweer uit die noorde trek en dis ‘n goeie teken.” Hendrik skud sy kop en sê moedeloos: “Neef Anneries, ik sê nou-die-dag vir Ketrina, hierie jaar hit mos ‘n 8 in en ‘n jaar met ‘n 8 in was nog altyd ‘n ingat jaar. Boonop hit my bokramme vanjaar ‘n ronne veertien dae alleen geloop en nie mit die bokke gespook nie ... dis nie ‘n goeie teken nie. Ik voel hier kom ‘n droë jaar, want ik hit nog nie ‘n reënteken gewaar nie.”
Katrina kom van buite af in. “Neef Anneries, jy kom vemôre of jy gestuur is, want nou’s my raad al opgedroë. Praat tog vir my ou man weer moed in. Hy sit elke dag op ‘n hopie soos een wat ‘n doodstyding gekry het.” Terwyl Andries die beker koffie by haar vat, sê hy: “Niggie, het jy die laaste paar môres hierie plat sleepmis, wat so in die laagtes lê, opgelet? En gistermôre het dit so opgegee in die ooste. En wat van die skilpaaie wat die laaste paar dae so loop?”
Ou Hendrik lig ewe belangstellend sy kop. “Neef, kokke-y hulle? Want as hulle nie kokke-y nie, meen hulle lopery bog. En ik hit ok nog nie die nut van ‘n ystervark en sleepmis gesien nie,” gooi Hendrik water op die vuur. Andries stop sy pyp tydsaam en toe hy die eerste trek gee, vra hy: “Neef Hennerik, het jy gesien die warrelwinde gisternamiddag? Vaaltyn, my ou pakdonkie, het vemôre ok mit sy gat noord gestaan en dis ‘n teken hy wil skuil teen die noordewind wat gaat kom.”
Dis asof daar nou lewe in ou Hendrik kom. Hy sit ‘n pruimpie in sy kies, lig sy kop op en sê: “Neef Anneries, vannag kon ik nie slaap nie, want hier’s al heelwat van my veetjies vrek en die wat nog lewe, is blylê-maer. Toe lê en dink ik mos aan die mooi jare, die regte reënjare, dourie jare net na ik en Ketrina mekaar gevat hit. Onthou jy nog die blinnevliejaar? Og, neef, die oostewind het vir drie dae aaneen gewaai – die wêreld was later asvaal van die stof. Neef, toe draai hy mos om tot in sy kerf. Ik onthou nog hoe die noordewind deur die matjieshuis gehuil hit, maar ik het hom die nag gelê en wag, want ik hit geweet dis ‘n reënweer hierie. Darie jare hit dit kort-kort ‘n ou weertjie gegee, maar nousedae hit die onweer mos ‘n manier om sulke lang treë te gee na die volgende onweer. Dan gee hy pertymaal ok nog so ‘n klein somertjie in die middel van die winter.” Ou Andries word so meegevoer, dat hy ook voel om ‘n bietjie sout by te gooi. “Juistemint, neef, as die onweer ‘n slaggie breek, dan sien lê jy in die weste die watergal. (klein stukkie reënboog) Dan weet jy, hier kom ‘n deurslagreën.”
Andries stoot sy hoed agtertoe en sêvra: “Neef, hit jy nie ok die beesliewerk (beeslewerik –voëltjie) gehoor nie? Dis ok ‘n goeie teken. Enne, as die onweer in noord gaat lê, dan weet jy die volgende onweer is nie ver nie.” Ou Hendrik rol sy pruimpie van die een kies na die ander en sê: “Maar as hy suid draai, weet jy hy groet jou vir eers.” Hy is nou in ‘n beter stemming en hy wil net vervat, toe sê ou Andries: “Neef, jy moenie die suideweer so vlak kjyk nie – hy hit al baie keer onverwags vir ons ‘n lekker reëntjie gegee.” Hendrik skud sy kop. “Nee, neef Hennerik, ‘n suideweer is soos ‘n ou vrou se dansery – hy val met drif in en as jy weer kjyk, hit hy opgehou.” Andries gee ‘n grimmetjie. “Neef, ik hit goeie moed vir hierie jaar, want soos ik gestap-kom hit, hit die perdespringer (akkedis) op ‘n bos gelê en hy kjyk noord. Baie mense roep hom mos die ‘kaaiman’. Die miere werk ook van voordag af en maak hulle gaatjies toe.”
Dis of die geselskap nou ge-olie is, want ou Hendrik skuif sy veldstoel sonkant toe. “Ouvrou, ons bekers is koud ... gooi vir ons, want ik wil vir neef Anneries vertel van die jaar toe ons twee mit ons veetjies Boesmanland toe getrek hit. Neef, die gha-graspolle hit so ‘n inkele grassprietjie gehad .... die voëls kon nie eens daarmee nes maak nie. Die onweer bly weg tot op ‘n môre, toe sien ons ‘n klein ou wolkie in die verte. Dit was nie lank nie, toe kry hy maters en hulle kom naders en naders. Ons hoor toe ook hy in die verte begin ghoeroe, maar hy maak nie uier soos ik wil hê nie. Ik seg laters vir Ketrina: ‘Lyk my dis van die suinige jaloerswere hierie wat niks vir ons gaat gee nie’. Hy’s so taai soos ‘n óú orrabok, maar ik sien laters by Snelsekop raak hy vaal. Ik seg toe by myselwers: ‘Hennerik, jy moenie staat en sône doen en die Liewen Heer in die oog steek nie ... kyk hier kom die reën.’ Ons skuil onner die wakap, maar neef, jy sil my nie glo nie – die druppels is so groot soos my duim se nael – sulke tjurkdroë druppels!”
Andries skud sy kop ongelowig. “Jy seg hulle is droog, neef? Dit kan mos nie wees nie.” “Ja, neef, vra vir Ketrina. Toe die bui oor ons trek, was die stof so dik, lat ik nie my voordonkies staat en sien nie.” Andries lag, want hy sien weer die son skyn in sy ou buurman se binneste. “Neef Hennerik, jy klae nou so, maar jy hit die beste grond hier rond. Agter Skurfhoog lê mos darie sandlaagte en daar’s altyd ‘n graspolletjie wat nog lewe.” Hendrik raak nou ingenome met homself en gee ‘n kuggie. “Janee, neef, darie sandlaaagte, dis goeie grond. As hy die slag goed reën kry, is hy soos ‘n oujongnooi aan wie jy ‘n guns gedoen hit – hy onthou dit lewenslank.”
Andries vat sy kierie en maak aanstaltes om te loop toe Hendrik uit die bloute vra: “Neef, ik hoor Betjie is alweer mit-die-lyf – as die sleg Jan Pap ok net ‘n slag iets wil doen, al kap hy net ‘n slaggie die kraalbos om sy huis uit. Ik hou hom bedags fyn dop – hy trek mit sy veldstoel al mit die skade van die bloekomboom. As dit nie vir die boom was nie, hit die son hom al lankal vrek gebrand.” “Bedaar, ou buurman,” betig Andries hom. “Jan is darem nie so lui nie – kjyk sy mooi spannetjie kjinners.” Hendrik stik byna in sy eie pruimpie. “Ik wens net ik kan hom op ‘n dag mit my eige oë sien werk, maar ‘n mens kan mos nie vir hom koekeloer as hy mit anner dinge besig is nie!”
Andries trek die onderdeur agter hom toe. “Neef, ik loop nou eers, maar ik hit vir jou nuus. Toe ik vemôre by Jan Pap se huis kom, was hy hard besig om hout stukkend te maak lat die sweet hom afloop.” Hendrik se mond val oop en terwyl hy haastig opstaan, sê hy driftig: “Neef Anneries, kom lat ons die leivoor gaat skoonmaak, want dis die sekerste reënteken wat ik vanjaar nog van gehoor hit!”