TUISGALERYLYS VAN WERKEGRATIS LEESKONTAKBLOGBOEKWINKELS
Lys van werke

Gert Sarrisam het twee publikasies tot op hede. As murasies kon praat is in Desember 2008 bekendgestel & Vonke uit die koeroeklip is in 2006 bekendgestel. Hieronder volg meer oor die onderskeie boeke. Twee van Gert Sarrisam se verhale is onderskeidelik opgeneem in Die melkweg het 'n ster laat val, 'n bundel plaasverhale saamgestel deur Riana Scheepers en Nicci Thabo, en Alles goed en wel, 'n bundel humoristiese verhale saamgestel deur Abraham H. de Vries. Nog een van sy verhale was die wenner van die buitelewetydskrif Weg se storiekompetisie vir 2005.

As murasies kon praatAs murasies kon praat

Ware verhale uit Namakwaland.

Met sy debuutbundel, Vonke uit die koeroeklip - 'n Eie verhaal uit Namakwaland, het Gert Sarrisam lesers van oraloor bekoor. Sy nuutste bundel bied weer pure leesplesier - daar is vrystories en bakleistories, hartseerstories en lagstories, sowel as vertellings oor 'n klompie rare karakters uit die Namakwalandse omgewing.

Die bekende ware verhale sluit in dié van 'n tweejarige dogtertjie wat verkluim het in die Kamiesberge, die Nazi-gesinde Robey Leibbrandt se spioenasietog aan die Weskus, die tergende Bettie Smith-moordsaak, en die opspraakwekkende moorde deur Jan Pieriga op die plaas Olienpoort. Leer ken ook die vermaakpersoonlikhede Arno van Zyl en ant Grietjie van Garies, en herleef die kubuskoors wat Suid-Afrika in die 1980's getref het!

Vir die gelukkiges wat Gert Sarrisam se Vonke uit die koeroeklip al gelees en geniet het, is sy nuwe bundel 'n voortsetting van 'n unieke soort plesier. Gert Sarrisam het 'n sonderlinge talent. Meer nog as met sy eersteling, wil hy met hierdie vertellings bewaarwerk doen, die ou stemme laat voortleef. En hy doen dit soos net hy kan. Sy sterk, boertige trant vol humor - en stoutigheid waar dit so hoort - laat herleef beide geskiedenis en vertelwyse, historie en storie, toenterjare en toenterwoord van daardie harde wêreld van die wildesalie aan die Bitterrivier in die Garies-distrik in Namakwaland. - Abraham H. de Vries

U kan As murasies kon praat bestel deur 'n epos te stuur aan bestellings@gertsarrisam.co.za

 

Vonke uit die koeroeklipVonke uit die koeroeklip

'n Eie verhaal uit Namakwaland.

Die skrywer herskep die ongerepte jeugwereld van elke Namakwalander, so helder en so hartseer soos 'n kelkiewynroep. Maar meer nog, van elke leser wat 'n stukkie platteland of plaas heimlik aan sy hart koester. En so word hierdie verhale allemansbesit, allemansplesier, maar veral allemanstroos, verfrissend en verrassend soos 'n bos bloulelies uit die Sandveld. - Marina Le Roux, Resensent en boekkenner

Wat hierdie vertelling uniek maak, is dat dit meer is as net kontreistories in 'n outentieke Sandveldse Namakwalands. Dit is herinneringskuns met 'n besonderse invalshoek: die dikwels krapperige verhouding tussen 'n pa en sy seun; die eeue oue stryd wat die vonke tussen die ou ram en die jong ram laat spat. Maar deernis ontbreek nooit in die stryd tussen korrelkop en korrelkop in 'n ongenaakbare, afgesonderde landstreek nie. - Wyle George Weideman, skrywer.

Vonke uit die koeroeklip is baie goed deur die publiek ontvang en is nou, Desember 2009, herdruk.

U kan Vonke uit die koeroeklip bestel deur 'n epos te stuur aan bestellings@gertsarrisam.co.za

Ontwerp & onderhou deur Tdesigns