Oor Gert Sarrisam
Skrywer en storie verteller uit Namakwaland
Gert Cornelis Engelbrecht is op 20 September 1944 in 'n matjieshuisie op hul familieplaas Sarrisam deur 'n vroedvrou die lewe ingehelp. Hulle was 'n groot gesin van tien kinders en het in die Sandveld langs die Weskus grootgeword. Sarrisam is 'n Namawoord en beteken "fluistering van die wind deur die riete". Min het hy geweet dat Sarrisam laterjare soos 'n geboortevlek aan hom sou kleef, want in die kontrei is hy vandag bekend as Gert Sarrisam.
Sy vader was 'n harde man en hy moes van sy vulletjiedag af bontstaan om op die plaas 'n handjie by te sit. Gert was die "naamkjind" en moes op 17-jarige ouderdom die skool op Garies vroegtydig verlaat om te gaan boer, want geleerdheid was vir sy vader van minder belang. Hierdie harde leerskool het nie 'n handboek nie, maar die foute wat jy maak, is die slypsteen vir oorlewing.
Gert werk 10 jaar slaafs vir sy vader en op 28-jarige leeftyd beland die boerderyleisels in sy hande. Hy sit sy hart in die boerdery, want hy besef toewyding en volharding is die sleutel tot sukses. Langs hierdie pad trou hy in 1970 met Hestelle Barnard van Piketberg wie op Garies kom skoolhou het – die beste lewenskeuse wat hy deur die Hoërhand ooit sou maak. Hulle is geseën met vyf kinders en tien kleinkinders.
Gert se liefde vir Namakwaland en sy mense het hom aangespoor om oor hierdie unieke landstreek en sy besondere mense te skryf. Hy begin eers skryf in die herfsfase van sy lewe en neem deel aan buitelewe-tydskrif, die WEG, se storiekompetisie waar hy as wenner bekroon word in 2005.
Hierdie toekenning was 'n klein vonkie wat die eerste deur na die skrywerswêreld sou oopmaak. "Ek het my beperking besef, maar met die inspirasie van my vrou beskou ek die skrywerspoging vandag as 'n geloofsprong. Soos in my boerdery het ek ook my Skepper gevra om deel te wees en my toe te rus op hierdie onbekende pad. Vandag na twee dekades kan ek met dankbaarheid getuig van begaafde mense wat my pad sou kruis en 'n onskatbare bydrae sou lewer tot my sukses. Op hierdie pad het ek baie geleer van die skryf- en herinneringskuns wat die Goeie Gewer aan my geskenk het. Ek loof Hom vir hierdie gawe. Al die lesers wat ek ontmoet het en hulle wat my ook besoek het, bly 'n kosbare herinnering."
Sy eerste kortverhaalbundel Vonke uit die koeroeklip verskyn in 2006. Hierdie boek het die skrywer en lesers verras, en het oorweldigende reaksie uitgelok. Twee jaar later verskyn sy tweede kortverhaalbundel, As murasies kon praat (2008). Beide die publikasies was vir vyf maande op die Top Tien-verkoperslys van die Protea Boekwinkel op Stellenbosch, waarvan Murasies vir twee maande die topverkoper was. Albei bogenoemde bundels gaan vanjaar (2026) vir hul vyfde druk.
Daarna het hy die ware verhaal van 'n jongman en sy dwelm- en drankverslawing vertel in Vlugtig deur die hel (2013) (Die lewensverhaal van Hendrik Jaars) voor hy sy hand waag aan 'n liefdesroman, Rimpelings van die Sybille(Speel af tydens die Anglo-Boereoorlog naby Lambertsbaai aan die Weskus). Na twaalf jaar verskyn sy derde kortverhaalbundel, Vammelewe se vuurstories vat vlam. Hierdie lywige bundel is afgerond tydens die grendeltydperk en handel oor sy wêreld se mense wat hom so na aan die hart lê. In hierdie bundel is ook die hartroerende verhaal van 'n dogtertjie wat deur vier blinde broers grootgemaak is.